Vanaand tik ek met ‘n whiskey en die sonsondergang oor die see. Die weskus-mense is harts mense. So ruk terug, toe dit al redelik donker is maar ons nog nie ons lig aangesit het nie, het hier ‘n oom by ons aangekom met een van sy eie ligte. “’n Man kan mos nou nie soe innie doenkerte ansukkel nie.” Het hy gesê toe hy die lig uithou na ons toe.
Vir die volgende twee aande slaap ons op Koingaas karavaan Park teen die Weskus. Hier moes ons ‘n permit kry om in te kom, en is in die hart van die Namakwa diamante gebied. Na die vorige skryf he tons van Augrabies na Springbok gery. 380km met net een dorp… en dit het gevoel soos net een draai in die pad. Op Springbok he tons by die Munisipale karavaan park gestaan. Hier was die swembad ‘n lafenis en die stukkies groen gras het soos ‘n oase teen die strak bruin landskap gelyk. Hier he tons tot laat gelê en luister hoe RSG deur ons bure se klein radio’tjie stoot en die trokke lawaai op die grootpad naby die kamp.
Maar daai geraas het ons agter gelos in Springbok, want vanaand is dit net ons en die see wat ons geselskap hou. ‘n Whiskey hou die gesprek aan die gang, en die sonsondergang gee vir ons iets om te bespreek. Dis oor hierdie rede dat Weskus mense seker sulke hartsmense is…
No comments:
Post a Comment